ROOM 104 (Reeks)

ROOM 104 (Reeks)

ROOM 104 met sy twee enkelbeddens is ‘n aangeleerde smaak. Dis daardie gerieflike term waarmee resensente altyd wegkom as hulle ‘n positiewe resensie doen oor ‘n reeks waarvan nie almal noodwendig sal hou nie. Dit speel in een hotelkamer af, wat my idee van ‘n tronk is, in wat lyk na ‘n Amerikaanse motel. Nou weet ons, veral mense wat met vroue gepraat het wat gereeld toeristekamers skoonmaak die goeters waarop hulle afkom, veral onder beddens en in, jig!, badkamers. Jy wil nie weet nie!

Maar ROOM 104 neem ‘n ander paadjie. Elke episode is anders, want nuwe mense daag in elke episode op. En daar is nie ‘n sentrale karakter wat die stories aanmekaar skakel nie. Hulle staan apart van mekaar en verskil soos poeding van papgekookte kool.

Die vreemdste gebeure vind plaas. Soms is dit surrealisties soos ‘n man wat met ‘n spook in die kamer kommunikeer, soms is dit komies, soos ‘n paartjie wat ‘n wegneem pizza bestel met ‘n lelike kinkel in die kabel. Sommige episodes werk, ander, soos episode 3, werk glad nie. Gelukkig kan jy dit stroom en self besluit na watter episodes jy wil kyk.