SAW

Nou kyk, ek beskou my as ‘n griller-fynproewer want ek is dol oor rillers en geen fliek kan ooit te skrikwekkend wees nie. Maar SAW val in ‘n ander kategorie. Ek het al gesien dat groot mans hardop gil in die prent en vroue vervaard uithardloop. Wat beteken dit kan jou erg ontsenu want dis wreed, beide op ‘n sielkundige vlak en wat sy geweld betref. Maar, as jy ‘n jong lat is wat nog nie die moed gehad het om jou arm om jou meisie te slaan nie, hier’s jou kans! Glo my broer, sy sal so groot skrik, sy sal sommer op jou skoot kom sit in SAW.

Die titel waarsku dat die duiwel in stereo hier losbars en sy hittige vurk lelik gebruik. SAW herinner nogal aan Se7en. Daarom, as jy bang was in die gemiddelde HIDE AND SEEK en THE GRUDGE, moet jy VER wegbly van SAW. Want dit is ‘n riller met murg in sy pype, anders as daai petieterige skrikmaakpogings. ‘n Man (CARY ELWES) word wakker in ‘n vuil vertrek. Hy is aan ‘n staalpyp vasgeketting. Oorkant hom is ‘n vreemde man wat ook vasgeketting is. Tussen hulle lê ‘n lyk van ‘n ongelukkige siel wat skynbaar selfmoord gepleeg het omdat hy in dieselfde situasie as hulle beland het. Wat wag op ons twee helde as hulle merk dat daar ‘n SAAG lê?

Wat SAW so vreesaanjaend maak, is sy realisme. Ook omdat jy agterkom dat die regisseur daarvan hou om jou te folter. Daar is niks wat hy NIE doen om jou te laat gil nie. So vergeet van riller-clichés. Hierdie een het woema en staal in sy pype en sal jou kort-kort laat gil van vrees. En nie van vals skokke as ‘n muis oor iemand se voete skarrel nie. SAW kan jou ernstig ontstel, niemand onder 16. Jy is gewaarsku. Taalgebruik kan ook skok.