Sex/Life (Reeks)

Sex/Life (Reeks)

Klere waai, harde geluide ontsnap kele, en lywe word skaamteloos uitgestal. SEX/LIFE is een van die gewildste reekse met eksplisiete sekstonele en naaktheid wat gestroom kan word. Dis ‘n sagte pornografie, leë reeks met die belaglike tema van ‘n vrou wat die mooiste man in die stad as eggenoot het. Hulle het twee lieflike kinders, maar dan raak madame verveeld met haar volmaakte huwelik. Foeitog.

Dikwels sonder bostuk skryf sy dan in haar joernaal hoe sy ‘n hings van ‘n erotiese seksspeelding bloots verlei, gespeel deur die Australiese katelknaap Adam Demos, wat alles tentoonstel, en sy verkul haar man met hom en plaas hulle huwelik op die spel. Jy sal meer naaktheid sien as wanneer jy gaan bad. Die klerebegroting is dunner as ‘n deurtrekker, maar die gimnasiumrekening stel eise aan gewigte. Onthou, SEX/LIFE is dubbeldoor-woes eroties. Kyk dit net as jy sagte pornografie soek waarin jy ná die tyd lees waaroor die storie gaan. Dié kondensmelk vir die oë is net te soet-druppend lekker.