SHALL WE DANCE

Ek weet nie van jou nie, maar ek kan nie een voet voor ‘n ander sit op ‘n dansbaan nie. My voete word blokke ys en my ritme hak HEELTEMAL uit. Dis wat met Richard Gere gebeur in SHALL WE DANCE. Wag, hoor ek jou sê, Richard Gere van Chicago kan nie dans nie? Nou ja, as jy dit glo, sal jy óók glo dat Ryk Neethling nog nooit ‘n swembad gesien het nie.

Gere speel die rol van ‘n muwwe boekhouer wat een aand ‘n beeldskone dansinstrukteur sien wat eensaam en verlate by ‘n venster uitstaar. Weer eens: J.LO, verlate! Ag kom nou! Hy besluit om by haar dansklub aan te sluit en self te leer dans. Hy verwaarloos sy vrou, Susan Sarandon, by die huis en wil liewer saam met ander lompvoetiges danspassies leer. Nou: enige man wat Susan Sarandon verwaarloos verdien wat hy kry. Julle sien dus: SHALL WE DANCE se groot probleem is die rolverdeling. Pragtige mense, maar hulle pas so min in hul rolle as ek as die Springbokrugbykaptein sal deug.

Daar’s lekker musiek, die danstonele is prettig, die mense is beeldskoon, maar: dis soos om na ‘n gim toe te kyk hoe die goed-geboude mense hulleself in die spieël bewonder. Jy kan net SO lank na narsisisme kyk. SHALL WE DANCE is ‘n Vrydagaandfliek wat jy tussen gim en aandete inpas sodat die verkeer afloop en jy rustig huis toe kan ry.