SIDEWAYS

SIDEWAYS het al talle pryse ingepalm, o.a. vir draaiboek en ensemblespel, en Thomas Haden Church mag wen vir beste byspeler gedurende die Oscars. Dis ‘n tawwe tameletjie en bevat taalgebruik, seksuele situasies en humor wat mense kan aanstoot gee. Dink dus BAIE mooi voor jy gaan kyk en dan vererg kla. Maar dit IS ‘n baie goeie komedie. Dit gaan oor 2 beste vriende wat ‘n week voor een van hulle se troue besluit om op ‘n wynproe-toer te gaan. Die aanstaande bruidegom kan egter nie sy drange in bedwang hou nie en jaag al wat ‘n rok dra, spesifiek Sandra Oh. Sy bleeksiel-pel, die briljante Paul Giamatti, kyk geskok… en bitter… toe hoe hy sy aanstaande vrou verneuk. Maar een of ander tyd betaal ‘n mens vir jou sondes. SIDEWAYS, gemaak deur ABOUT SCHMIDT se regisseur, Alexander Payne, is ‘n gitswart, bitter, donker komedie vol galgehumor. Moet dus nie Leon Schuster verwag nie. Nog minder is die komedie gehoorvriendelik. Dis ‘n aangeleerde smaak wat kan skok as jy van skoon vermaak hou. Moet dus nie goedsmoeds hier instorm tensy jy oopkop fliek nie. Tog is SIDEWAYS een van die jaar se beste komedies, skokkende tonele en al. Dis maar soos die lewe is: mens kan nie net oor die mooi dinge in die lewe lag nie. Daar is ook die ander sy soos SIDEWAYS illustreer.