SONGBIRD

SONGBIRD

SONGBIRD word geadverteer as die eerste fiktiewe drama gegrond op feite wat verband hou met die coronavirus. Met K.J. Apa in die hoofrol, vertel dit die verhaal van ‘n afleweringsjonge wat met sy fiets deur ‘n verlate stad jaag, kamera uitbundig voor hom uit en sy kuif soos ‘n vlag in die wind. Hy jaag om pakkies in gesaniteerde hokkies te druk, net om weer gesaniteerde pakkies te kry om af te lewer in verlate strate. Hy is ingeënt en is immuun.  Natuurlik raak hy verlief op een van die meisies wat in ‘n huis geïsoleer is.

Dis 2024 en die Covid-23 bereik sy hoogtepunt. Die planeet is lam. Die rolprent wys hoe mense gekwarantyn word, sterf aan die virus en hoe die pandemie Amerika op sy knieë dwing. Klink dit bekend? Maar SONGBIRD is darem nie net ‘n jobstyding nie, want K.J. Apa met sy bronstige energie, deurmekaar hare wat die wind soos ‘n seilboot gebruik, en mannemoed wat testosteroon toets en tot ‘n nuwe hoogtepunt voer, sal sy meisie kry. Maar intussen keer soldate hom voor. Dis Mad Max, net aantrekliker, wat veg teen die mensdom se uitwissing in die moderne tyd.

Die Covid-pandemie-storie is nie so vergesog soos ‘n mens gedink het nie, al is die kinkels ongelooflik. Die film is in die buiteland gekritiseer omdat dit Covid as ‘n speelbal gebruik wat nie werklik die erns van die siekte in ag neem nie, en natuurlik oorwin die held en heldin die virus. Niks kan ‘n gespierde held en mooi heldin verhoed om Amerika te red nie – nie Covid nie en nie terroriste nie en ook nie aliens nie.

Natuurlik wys Apa sy sespak, boude en harige bor,s en is die heldin vreesloos, maar dit voel asof die rolprent geen respek betoon teenoor die erns van die virus nie. Gaan kyk as jy ‘n fliek oor Covid wil sien wat nie so neerdrukkend soos dokkies oor Covid is nie. Dit sal tot interessante debat ly. SONGBIRD is die eerste fliek van sy soort oor Covid, en dis hoopvol. Ai, as mens darem ‘n sespak en borshare het, kan jy enigiets regkry.