Spider-Man: No Way Home

Spider-Man: No Way Home

Daar was al soveel Spidermans dat ‘n mens vasgevang raak tussen al die spinnerakke van vergesogte stories. Daarom is dit merkwaardig dat die nuwe SPIDER-MAN: NO WAY HOME alle verwagtings oortref het. Tot so ‘n mate dat dit nie alleen die grootste Spider-Man van alle tye is nie, maar ook skynbaar die grootste film van die jaar is wat alle rekords breek.

Wat werk is die harde werk wat die draaiboekskrywers ingesit het. Die karakters is nie blote kartonfigure wat die gate tussen spesiale effekte moet vul nie. Spider-Man (die uitstekende Tom Holland) was nog nooit meer mens as hier nie, maar is ook ‘n held in volle reg. Hy word knap ondersteun deur sy mede-akteurs, en vir ‘n verandering speel die heldin (Zendaya) ook ‘n stewige rol in die ontknoping.

Daar is ‘n yslike verrassing wat selfs die grootste Spider-Man-aanhanger nie sal verwag nie, en wat die storie heeltemal in ‘n ander unieke rigting stuur. Dis nou professionele aksie-Marvel-vermaak!