Spiral

Spiral

Dalk word ek oud, maar geen kalmeermiddel het gehelp teen SPIRAL nie. Dit oorskry alle geweldsgrense in ‘n land waar daar tientalle wrede moorde per dag op onskuldige mense gepleeg word. Waarom nog betaal om dit in bloedige detail in nabyskote te sien? Met opruiende musiek? En dit word as “koel, my bra, darem snaaks, huh buddy?” uitgebeeld.

Kortliks sluit ‘n nuwe rekruut, die “daar’s ’n lied en ‘n glimlag vir jou”-gesiggie, Max Minghella van The Handmaid’s Tale, by ‘n polisiemag aan waar die een na die ander polisieman op die wreedaardigste wyse denkbaar, letterlik vleisstuk vir vleisstuk, uitmekaargeskeur word. Dit kan ons rampokkers vars idees gee oor aan watter martelings hulle slagoffers nog kan blootstel.

‘n Mens sit vergruis van afsku en kyk hoe lekker die regisseur kry en hoe intiem en eksplisiet die detail in SPIRAL is. Die moordenaar neem as voorbeeld die wrede Jigsaw uit die 2004-rolrpent, Saw, se diaboliese tegnieke, maar verbeter daarop… as mens dit so kan noem… op sy brutale masochistiese speletjies.

SPIRAL is verwoestend brutaal, en jy word ten sterkste daarteen gewaarsku. Al wat my so laat ril hier waar ek skryf, is dat daar mense is wat dit sal geniet, my china, my bru.