Squid Game: The Challenge (Reeks)

Squid Game: The Challenge (Reeks)

Mense was baie geskok toe ek die oorspronklike Suid-Koreaanse reeks, Squid Game, geresenseer het. Dit was bloeddorstig, wreed, skrikwekkend verrassend, en anders as enigiets wat jy nog ooit gesien het. Die geweld was soms buitensporig. Nou is daar ‘n vervolg op Netflix gemaak: SQUID GAME: THE CHALLENGE, waarin dieselfde suksesresep herhaal word.

‘n Klomp desperate en niksvermoedende mense neem aan ‘n diaboliese realiteitspeletjie deel waar hulle een-vir-een geëlimineer word, veral wanneer hulle met verf gepeper word. Dit gebeur tot iemand ‘n reuse boerpotprys wen. Hulle moet mekaar uitoorlê, in ‘n mate saamwerk, koelbloedig koud wees, meedoënloos hard voorkom en mekaar elimineer vinniger as wat jy ‘n e-pos stuur.

Die nuwe reeks, veral in sy Britse vorm, is bietjie ontman. Die wreedheid is getemper, en die speletjies is nie so grusaam of verrassend nie. Dis ook nie so spannend soos gewoonlik nie. Jy raak meer geheg aan die karakters, veral aangesien hulle met ons praat en hulle persoonlikhede en redes vir die deelname aan die realiteitsreeks verduidelik, maar alhoewel steeds onstuimig en ontstellend, het dit nie dieselfde trefkrag as tevore nie.

SQUID GAME: THE CHALLENGE is gemiddeld. As jy wel na slapelose nagte soek, kyk na die eerste Squid Game se doodspeletjies.