STAR WARS EPISODE 3: REVENGE OF THE SITH

Hy kruip stadig… doelgerig van die vuur af weg. ‘n Pynkreet ontsnap sy lippe. Die lawa lek aan sy bene en hy gil weer. Sy hande strek krampagtig uit na Obi-Wan Kenobi… daar kom nog ‘n roggelgeluid uit sy keel… die vuur dreig om hom te smelt… En in daardie gedaante word DARTH VADER gebore. Die mooi seun met die oulike glimlag, Anakin Skywalker, gespeel deur Hayden Christensen, word die monster, Darth Vader… Ja vir al julle Star wars-verslaafdes: Die derde episode van STAR WARS, Revenge of the Sith, is een van die bestes in die reeks. Dit is ‘n terugkeer na die uitbundige STAR WARS resep van Episode 4: A New Hope… Dit beteken George Lucas meng aksie, romanse, tragedie, steroorloë, ligswaarde wat gevaarlik flits en donker oë wat dreigend kyk… Hy keer terug na sy oorspronklike suksesresep vol onskuld en aksie. Ek het weer soos die outjie gevoel wat STAR WARS vir die eerste keer in die Cine 1000 in die destydse Sterland in Doornfontein gesien het. Ek onthou, ek was verstom destyds… want vir die eerste keer het wetenskapfiksie sedert 2001 A Space Odyssey weer sin gemaak. Het dit ‘n menslike feëverhaaltjie-gesig gekry. Het dit weer aangegryp. Het dit jou vervoer na ‘n heelal ver, ver weg. In Episode 1: The Phantom Menace en Episode 2: Attack of the Clones, het Lucas te selfversekerd geraak. Hy het gedink hy kan enigiets doen, en sy bewonderaars sal dit vir ster-stof opeet. Almal het Jar-Jar Binks gehaat, en het verveeld gegaap as Obi-Wan Kenobi lank in boekerige taal filosofeer. Of toe Padme en Anakin vir ewig trou aan mekaar gesweer het in ‘n toneel wat 10 minute lank gedraal het. Oopmondverbasing het in gape verander. Ouens wat opgespring het uit hul stoele van opwinding het nou skeef gelê en probeer wakker bly. Daarom is bewonderaars maar versigtig vir Episode 3. Ek kan julle gerusstel. Haal maar daai ligswaarde uit en oefen jou systappie, want ANAKIN en Palpatin se geniepsige wapens sal jou senuwees opkerf. Ruimtetuie swiep gevaarlik laag oor jou kop verby, sterre ontplof, skurke vlug ylings voor weermagte uit en helde sterf dapper. STAR WARS EPISODE 3: REVENGE OF THE SITH is sidderend uitbundig, ongelooflik vermaaklik en kleurvol dramaties. Dis glo die fliek met die meeste spesiale effekte nog. Daar is oor die 1,300 spesiale effekte. Sommige so realisties jy kan jou eie oë nie glo nie. Meeste effekte is natuurlik op rekenaar geskep. Daarom, as jy nog altyd geglo het ons is nie alleen nie… en dat jy gemaklik op ander planete kan asemhaal… is die derde STAR WARS vir jou. Ek moet net waarsku dat die ou heel kleintjies dalk kan bang word, want die fliek is BAIE donker op sekere plekke. STAR WARS EPISODE 3: REVENGE OF THE SITH kos orals R35… en is nie ingesluit in die R12 of R14-afslag nie. Ek beveel dit STERK aan vir wetenskapfiksie-aanhangers.