Stella Murders (Showmax)

Stella Murders (Showmax)

Meeste mense ken die tragiese storie van twee skoolmeisies, Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht van Stella in Noordwes, wat in 2018 deur Xander Bylsma vermoor is. Die dokumentêr, STELLA MURDERS, wys hoe ‘n treurende dorpie hierdie tragedie probeer verwerk. Dit werp geen nuwe lig op wat gebeur het nie. Jy het alles al in die nuus, in koerantopskrifte of in die media gelees. Dit wys hoe die agtergeblewenes probeer om met hulle lewe voort te gaan.

Die tragedie word in perspektief geplaas, en die ouers van die skoolmeisies vertel saam met hulle vriendinne en ‘n joernalis wat daardie noodlottige aand gebeur het. Ook hoe ‘n baie slim privaatspeurder, Chris Saunders, die skuldige ontmasker het deur net doodgewone vrae aan hom te vra. Vrae wat hy eerlik beantwoord het en tot sy skuldigbevinding gelei het toe hy erken het wat hy gedoen het. Ongelukkig het die Bylsmas nie aan die dokkie deelgeneem nie. Soos die regisseur David Enright in Op en Wakker erken het: die reeks gaan eintlik oor die smart wat die slagoffers se ouers, familie en die dogters se vriende ervaar het. Kyk dit as jy die saak nie so goed ken nie.