SURVIVING DEATH (Reeks)

SURVIVING DEATH (Reeks)

SURVIVING DEATH spekuleer oor ‘n onderwerp wat die mensdom al vir eeue lank fassineer, teister, angstig maak en laat wonder. Wat gebeur die oomblik wanneer jy sterf? Maar belangriker: wat vind daarna plaas? In hierdie reeks op Netflix word daar verskeie onderhoude gevoer met mense, waarvan sommige tot ‘n uur lank dood was, en wat hulle in daardie tyd ervaar het. Nie baie mense erken terloops dat hulle ‘n tonnel met wit lig gesien het nie, maar dat hulle geliefdes dikwels daar was om hulle na die anderkant te begelei. Maar wat is aan die anderkant?

SURVIVING DEATH kan natuurlik net gis, alhoewel hulle met baie mense praat oor hul omstrede ervarings terwyl hulle gedurende ‘n operasie gesterf het, of in ander lewensgevaarlike omstandighede die tydige met die ewige verwissel het. Hallusinasies? Die brein wat ophou funksioneer het en van suurstof ontneem is? Of iets wat gebeur het wat nie verklaar kan word nie?

SURVIVING DEATH wat uit ses episodes bestaan, spreek onderwerpe aan waaroor baie mense gis soos reïnkarnasie, en wat sommige as blote versinsels of bog sal afmaak, maar wat enkeles tog mag laat wonder.