SUSPECT ZERO

SUSPECT ZERO is nou rêrig ‘n grillerige fliek. As jy van SEVEN, SESSION 9 en in ‘n mindere mate THE RING gehou het, is dit die fliek vir jou. Met ander woorde, almal wat eers onder die bed kyk voor hulle saans gaan slaap… luister jy Cobus Bester? Sal SUSPECT ZERO nagmerrie-wekkend vind. Hollywood se gunsteling skurk, ‘n reeksmoordenaar, maak weer sy opwagting. Maar die kinkel in die kabel is: dié walglike skurk sien gesigte van ‘n ander reeks-moordenaars wat grusame moorde pleeg. Hy jag hulle dan en vermoor hulle. Maar dis steeds moord. ‘n Neurotiese speurder, self nie lekker op die boonste verdieping nie, gespeel deur Aaron Eckhart, volg hom. Dis ‘n klaustrofobiese, donker, vreesaanjaende maar onderspeelde skrikfliek. Dit gaan alles oor atmosfeer en ‘n wrede storie wat die vreemdste kinkels onder die son uitvoer. Niks is normaal in die fliek nie. Als is verdraai of verwronge. As jy daar uitstap, is jy gedisoriënteerd. SUSPECT ZERO kry 7 uit 10. Dis nou rêrig ‘n papslaan grufliek.