Tenet

Tenet

Soos met enige Christopher Nolan-fliek is dit tegnies oorweldigend en geniaal ingewikkeld. Jy moet jou brein braai om die storie te volg. Dit kom daarop neer dat ‘n agent en ‘n slimkop moet saamspan om te keer dat die wêreld vernietig word deur ‘n skurk (Kenneth Branagh) wat die planeet kan laat ontplof wanneer hy sterf.

Die probleem is die gebrek aan menslikheid soos in enige Christopher Nolan-fliek. Die karakters is simbole wat aksies vervul, hulle is nie nie mense nie, maar as ‘n visuele skouspel sal dit jou in ‘n floute laat verval met ‘n ongelooflike motorjaagtog en oorlogtonele. Tyd word ook gemanipuleer, dus beweeg tyd tegelykertyd vorentoe en agtertoe. Jy moet stewig op TENET konsentreer om sin daaruit te maak. Dit is rateltaai, lank, oorweldigend, asemrowend, tegnologies gevorderd en moeilik, maar dit moet op ‘n groot skerm, verkieslik IMAX of 4D-X gesien word.

Ek het gedink dit probeer te slim wees, en dit het my gereeld die kluts laat kwytraak. Ek was nie baie beïndruk of vermaak nie. Christopher Nolan moet maar ‘n bietjie ingeperk word.