Tetris (Apple TV+)

Tetris (Apple TV+)

Al hoe meer mense skaf deesdae Apple TV+ aan, want hierdie nuwe stromingsnetwerk bied vermaak wat bietjie buite die gewone val. TETRIS is ‘n voorbeeld. Soos die loklyn sê: Dis die videospeletjie wat jy nie kon neersit nie, die storie wat jy nie kon opmaak nie.

‘n Besnorde bleeksiel wat videospeletjies in die 80’s en 90’s ontwerp (ráák uitgebeeld deur Taron Egerton) ontdek die verslawende Nintendo-speletjie, Tetris, waar blokkies opmekaar gestapel en ingepas moet word. Net Super Mario Bros. is gewilder. Maar wanneer Egerton as Henk Rogers die video-arkade en rekenaarregte daarvoor soek, ontdek hy dat die brein agter Tetris in Rusland sit, en dat hy Moskou toe moet gaan om te onderhandel. Van skone domastrante vermetelheid koop hy ‘n vliegkaartjie met histeriese snaakse, maar ook naelbyt-gevolge.

Moenie TETRIS vlak kyk nie. Dis super vermaaklik, en alhoewel baie voorvalle en jaagtogte natuurlik opgedis of opgetert is, is die basiese storie waar. Dat een man soveel vir een videospeletjie kon waag. TETRIS is opwindend!