The Cleaner (Reeks)

The Cleaner (Reeks)

THE CLEANER gaan oor ‘n Skot (Greg Davies met lekker boep, baard, skerp oë, aksent en ‘n gesig waarin die lewe lekker oud geword het) wat misdaadtonele opruim. Nou dink jy: ons leef saam met soveel misdaad in die land, hoekom boonop na misdaadtonele kyk ook? Dink weer.

Jy sien feitlik nie die moorde of enige werklike geweld nie. Dis amper so gehoorvriendelik soos MURDER SHE WROTE. Dis die vreemde, eksentrieke mense, soos ‘n neurotiese skrywer en ‘n oulike tannie wat die Opruimer se pad kruis, wat jou in jou skons sal laat grinnik. Hulle word gespeel deur topakteurs.

Sommige episodes is maagseerlag-snaaks en so vol sjarme, dat jy na ‘n halfuur van al jou kwellings vergeet. Daar is dikwels net drie karakters in ‘n huis in elke episode, maar dis wat hulle vir mekaar sê en die humor in die dialoog wat jy moet hoor om te waardeer. En die kinkels.

THE CLEANER op Britbox is een van die lekkerste en mees oorspronklike, opwindende en verbeeldingryke Britse reekse.