THE CLEARING

Nog ‘n uitmuntende fliek waarvan my kollegas nie gehou het nie, was THE CLEARING. Met die Leigh Matthews ontvoeringsaak vars in ons geheues, is THE CLEARING tydig. Maar ook omdat dit so naby aan die waarheid is. Dit gaan oor ‘n skatryk sakeman, gespeel deur Robert Redford, wat ontvoer word. Die fliek verdeel na sy ontvoering in twee dele: ons sien sy vrou (die briljante Helen Mirren) se pogings om hom lewend terug te kry én ons sien wat tussen die man en sy ontvoerder, gespeel deur Willem Dafoe, gebeur. Die vraag is: nadat die losprys betaal is, sal die ontvoerder sy slagoffer lewend vrylaat? THE CLEARING is knap geregisseer met ‘n hoë spanningslyn. Hier is geen Hollywood-foefies nie. Dis vir mense wat hul flieks ernstig opneem en wat moeg is vir Hollywood suiglekkertjies waar almal altyd gelukkig saamleef. Dit kry 7 uit 10. Niemand onder 10.