THE CROWN (Reeks)

THE CROWN (Reeks)

Ons het dalk nou genoeg van die Prinses Diana-tragedie gehad. Nie alleen is daar alweer ‘n dokkie, The story of Diana, op Netflix nie, maar THE CROWN, tans in sy vierde seisoen, dramatiseer die gedoemde verhouding tussen haar en prins Charles en die derde driehoek in die verhouding, Camilla Parker Bowles. THE CROWN is eintlik ‘n supermooi sepie met snapsies waarheid tussen in, en ‘n mens wonder hoeveel waarheid daar steek in baie van die tonele en intense gesprekke, veral die dele oor Margaret Thatcher.

Feit is: THE CROWN is ‘n intense sepie. ‘n Mens vergaap jou nie alleen aan die oordadige produksiewaarde nie – dis kastele, paleise, uniforms en kostuums – maar veral aan watter dramatiese uitlatings gemaak is. Veral die vertroulike gesprekke tussen prins Phillip en die koningin gee jou kakebeen oefening soos dit keer op keer oopval. Hoeveel daarvan is waar? Toemaar, sê die bewonderaars, dit is só vermaaklik dat hulle nie omgee nie.

Wat my betref is die beste spelers Josh O’ Connor as Charles en die wonderlike Helena Bonham Carter as die miskende en gefrustreerde prinses Margaret. Hulle registreer as vlees en bloed mense. Baie van die ander akteurs oordryf egter die karakters se maniërismes. Tog is THE CROWN, ten spyte van al sy gebreke, só vermaaklik dat ek die vierde seisoen aanbeveel as die meer teleurstellende seisoen. Vanweë die bohaai oor prinses Diana, mag jy dalk kyk.