THE ELFKINS

THE ELFKINS

Animasieprente lyk deesdae vir my dieselfde, maar THE ELFKINS is so ‘n trappie bokant die ander animasie-gedoentes. Die Elfkins (kom ons  noem hulle elfies) dra die snaakste hoedjies ondergronds. Hulle hou nie van mense nie, en enige inmenging van die boonste wêreld word beveg. Maar vanjaar word ‘n hoedkompetisie gehou, en die wenner kry ‘n nuwe hoed. En dis waaroor THE ELFKINS aan die begin gaan.

Die tekeninge is helder en vrolik, op die outydse manier geteken voor rekenaar-animasie oorgeneem het, maar dis die konserte en hoede-kompetisie wat eintlik die middelpunt vorm. Die storie verloop darem heel logies vir ‘n animasie, maar hier is nou regtig niks wat enige kleintjie kan aanstoot gee nie. Gaan laai die kleuters daar af, maar as jy saamgaan, mag jy soms grinnik, selfs giggel oor die Elfkins wat so desperaat van ons mense wegkruip en hulle naïwiteit.