The Flight Attendant (Reeks)

The Flight Attendant (Reeks)

Die komediereeks THE FLIGHT ATTENDANT is só maltrap, die fiets se wiele rol voor die fiets teen die bult af. Ons ken almal die waardige lugwaardinne wat by die deur staan en sê: “Welcome, may I see your boarding pass?” met ‘n geoefende glimlag. In hierdie reeks kyk ‘n dowwe dolla met sexy blonde hare (Kaley Cuoko) nie eers altyd na die passasiers se kaartjies nie, maar hoe styf die manne se broeke sit. Sy vang die oog van ‘n bebaarde vleispaleis (die aantreklike Belg, Michiel Huisman) in eersteklas, en dan… nou ja, smelt die ys voor dit die sjampanjeglase tref.

Dis net hierna dat dinge skeefloop. Praat van ‘n rowwe landing! Wanneer die twee mooi mense, sy al trippelend met pyrexbord-oë, eers deur die strate baljaar, vergeet sy alles van vliegtuie. Styg net op en op en op. Tot ‘n verrassing haar in turbulensie werp. Meer wil ek nie  verklap nie. THE FLIGHT ATTENDANT is vir mense wat van die geordende chaos wil vergeet, en nooit wil ophou lag nie. En kán die dame trippel en groter oë as Goldie Hawn onder haar kuifie trek!

Jy sal THE FLIGHT ATTENDANT oor ‘n naweek vraatkyk, en vlugsout moet drink om jou asem terug te kry. Heerlik!