THE FLYER

Ek weet ek het dit al dikwels gesê, en ek weet die pleidooie val op dowe ore, maar hier’s dit weer. Flieks is nou oor die algemeen goedkoper. En as ‘n plaaslike fliek gemaak word… is ditons plig om dit te ondersteun. Want NIEMAND ANDERS gaan dit doen nie. As ons nie na ons eie flieks gaan kyk nie, gaan hulle nie weer gemaak word nie. Daarom, skakel jou TV-stel of neem daai sepie op, en gaan kyk na THE FLYER wat vandag begin. Dit gaan oor twee bruin seuns in Kaapstad wat die spoor byster raak. Een word gevang en in die tronk gestop, die ander word deur ‘n sakeman opgelei om ‘n sweefstok-kunstenaar te word. Op dié manier verbeter hy sy lewe en doen hy iets nuttigs. Maar wat gebeur as sy broer uit die tronk kom? THE FLYER is werklik ‘n plaaslike fliek wat op elke Suid-Afrikaner se flieklysie moet verskyn. Gaan kyk dit sommer die naweek, want julle weet hoe gaan dit. Volgende week is daar weer nie tyd nie, of jy kom nie daarby uit nie. En voor jy jou oë kan uitvee, is dit van die kringloop af. Die ander grotes soos SPONGBOB SQUAREPANTS en BE COOL sal nog altyd oor 3 weke daar wees, maar nie THE FLYER nie. Ek wil amper sê: as jy van Katinka Heyns se rolprente jou, sal THE FLYER ook in jou smaak val. Daar is nie ‘n SWEEMPIE politiek of politiese korrektheid in die rolprent nie. Dis ‘n doodgewone S.A. storie oor doodgewone mense wat hulle lewe uitsonderlik probeer maak. Dis ‘n storie waarmee ons kan identifiseer, so anders as al die Amerikaanse ekploitasie-prente wat ons daagliks tref. Ondersteun ‘n goeie storie met ‘n warm hart en menslike karakters. Gaan kyk na THE FLYER. As jy nie daarby uitkom nie, mis jy een van die mooiste fliekervarings van die jaar. Marcel van Heerden speel die hoofrol. THE FLYER, sterk aanbeveel vir RSG-luisteraars.