The Gray Man

The Gray Man

Mens hoor die lawaai van ver af soos ‘n magtige dreuning aankom, amper soos ‘n trein wat ontspoor. THE GRAY MAN is ‘n rolprent op Netflix vol kakofoniese lawaai waarin honderde gevegte uitbreek so vinnig as sommige mense ‘n koevert oopmaak. Dis ‘n geskiet, gebloei, gehardloop, ontwrigting, uittarting, bomme wat ontplof, motors wat jaag en ons held wat honderde mense vermoor en kafdraf, maar self slegs twee ligte snyplekkies aan sy mooi gesig opdoen. Al storm tien gewapende ouens hom, hy oorwin telkens.

Wat iemand van die statuur van Ryan Gosling in THE GRAY MAN soek, weet nugter. Dalk het hy die geld nodig gehad. Dalk wou hy homself vestig as aksiester, dalk wou hy James Bond speel, wie sal weet? Maar hy mors sy talente.

Dit gaan oor ‘n oud CIA-agent wat  gewerf word om vuilwerk vir die agente te kom doen, en dan besef hy word net gebruik. Hy moet onder andere ‘n geheuestokkie vind met sensitiewe inligting. Hoeveel keer is dié storie al vertel?

Dis eintlik net ‘n verskoning om sinnelose gevegte aanmekaar te flans wat so leeg is soos ‘n kosblik na langpouse. Vervelig is nie die woord nie. Alhoewel aksieverslaafdes mag voel hulle geniet dit om net te sit… te staar… nie te dink nie… te juig as iemand in die stof byt en nog ‘n motor verongeluk.

Jammer, maar THE GRAY MAN, wat ‘n allemintige $200-miljoen gekos het, was ‘n mors van geld. Ag nee. En dan speel sterre soos Alfre Woodard, Ana de Arnas, Chris Evans en Billy Bob Thornton ook daarin. Miskien is hulle baie betaal.