THE INTERPRETER

Die hooffliek vandeesweek is THE INTERPRETER met Nicole Kidman en Sean Penn. Mens gaan eintlik kyk vir die kombinasie van daardie twee groot Oscarwennende talente! Kidman is ‘n tolk wat by die Verenigde Volke werk. Een aand hoor sy per ongeluk hoe die dood van ‘n diktator beplan word. Sy vertel die polisie wat dink sy’t ‘n geheime agenda. THE INTERPRETER is ‘n donker, fassinerende, dikwels ontstellende drama wat teen ‘n politieke agtergrond afspeel. Sydney Pollack is die regisseur. Dit vergelyk met ALL THE PRESIDENT’S MEN, THE PARALLAX VIEW en THREE DAYS OF THE CONDOR. Waar beeldskone mense aan die verkeerde kant van die skurke en die polisie beland. Interessant dat THE INTERPRETER ook aan Afrika-probleme raak. En Hollywood is so lief om Afrika se probleme te probeer oplos. Wat hulle nog nie uitgevind het nie is: Afrika is nie vir sissies nie. Of vir Nicole Kidman nie! Die diktator wat Amerika besoek, verniel en vernietig sy mense… maar gou word ‘n paar geheime ontbloot en ontdek ons dat alles nie so pluis is as wat ons gedink het in die Verenigde Volke nie. THE INTERPRETER is regte Vrydagaandvermaak. Veral as jy ‘n taai week agter die rug het, jou baas het jou geïrriteer, jy was onder geweldige stres en alles raak net te veel. Dan sal dié rolprent jou van alles om jou laat vergeet. Dis spannende, boeiende en professionele vermaak.