THE LIFE AND TIMES OF OSCAR PISTORIUS (Reeks)

THE LIFE AND TIMES OF OSCAR PISTORIUS (Reeks)

Mens dink jy weet “soort van” alles ná die sensasionele televisieberiggewing destyds, maar die bekroonde Britse regisseur, Daniel Gordon, bly nugter en oopkop. Hy balanseer Oscar, die ikoon met die veroordeelde, soms patetiese man wat geval het, objektief, en die twee wêrelde word slim en soms ironies gejukstaponeer. Ons sien hoe Oscar as dapper kind en skoolseun uitgeblink het, jy herleef al sy medaljes en prestasies, en dan tref die verskriklike moordaand op Valentynsdag 2013 jou nog sterker. Alles word presies en noukeurig gewys.

Daar word nie soveel klem op die hofsaak nie gelê nie, behalwe in episode 4, maar ons sien dikwels vir Oscar in meer privaat en stil oomblikke. Ook hoe hy opgang gemaak het, maar ‘n jaar voor Reeva Steenkamp se dood, in ‘n toenemende mate, depressief geword en irrasioneel begin optree het. Alhoewel sommige tonele en voorvalle te lank uitgerek word (ek praat veral hier van sy prestasies op die sportveld wat die episodes te lank maak), is dit interessant om hom in meer oomblikke van introspeksie te sien. Ook om na onderhoude met talle mense te luister wat sake uit verskillende perspektiewe belig. In THE LIFE AND TIMES OF OSCAR PISTORIUS kry jy die storie agter die sensasionele TV-beelde.