THE LITTLE THINGS

THE LITTLE THINGS

Ek weet die titel klink nie na iets wat jou na jou motorsleutels sal laat soek nie, maar die grootste juwele lê dikwels opgesluit in die eenvoudigste titels waarvan mens min verwag. THE LITTLE THINGS se titel is misleidend eenvoudig en niksseggend, want dit gee nie enige aanduiding van waaroor dit regtig gaan nie. Maar jy sal jou misgis…

Goed, as ek sê: dis weer ‘n reeksmoordenaarfilm, dink jy seker: Net nie nog een nie. Ek ken die resep al uit my kop. Noudat mens rolprente kan stroom, is daar net te veel soortgelykes. Maar THE LITTLE THINGS is so donker soos ‘n treintonnel waar daar geen trein aankom nie. En as hy aankom, trap hy jou dood. Denzel Washington en ‘n uitmuntende Rami Malek ondersoek ‘n reeksmoordenaarsaak. Die polisie is al so gewoond aan slagters van die mensdom, dat hierdie maar net nog ‘n saak is. Maar hulle misgis hulle.

Soos David Fincher se Se7en, delf THE LITTLE THINGS tot op die diepste vlak van sielkundige terrorisme en geestelike anargie, waansin en grillerige ambivalensie wat persoonlikhede betref. Want die moordenaar is gevaarliker en meer slu as enigiemand wat jy in onlangse rillers  gesien het. Om die waarheid te sê: THE LITTLE THINGS is een van die jaar se mees verrassende en onderskatte flieks.

Dit raak soms so benouend, dat dit voel of jou asem uitgepers word, veral as jy in die reeksmoordenaar se oë kyk. Die karakters word soos dobbelstene heen en weer gegooi, en uiteindelik voel jy: dis soos ‘n spinneweb waaruit jy nie sal wegkom nie, veral nie as jy die diaboliese speletjies sien wat die reeksmoordenaar met die polisie speel nie, wat een van hulle na waansin dryf. Dis soos om in ‘n skottelgoedwasmasjien te beland wat net nooit ophou spoel nie. THE LITTLE THINGS is uitmergelend en senutergend. As jy van gruwel-sielkundige-rillers hou, is hierdie een vir jou.