Waar die meeste TV-reekse jou toelaat om jou brein te laat rus omdat jy alles gevoer word, is THE LOST FLOWERS OF ALICE HART ‘n uitsondering. Dit is ‘n epiese verhaal wat oor verskeie geslagte strek, en veral kindermishandeling aanspreek. Ook vroue wat die knie voor wrede, gewetenlose mans moet buig.
Die storie ontvou tydsaam en rustig, maar die gebeure in Australië is onthutsend. ‘n Jong Alice Hart word deur haar pa mishandel. Sy beland uiteindelik by haar ouma (gespeel deur Sigourney Weaver) op ‘n blomplaas waar sy hoop op genesing. Maar juis hier ontdek sy feitlik onoorkombare probleme. En dan hunker ‘n bibliotekaresse na Alice, om haar behoorlik te versorg.
THE LOST FLOWERS OF ALICE HART is ‘n onstuimige, emosionele reeks met lang stukke rustigheid, waar die storie kans kry om haar lê te kry voordat die dramatiese intrige verder ontwikkel. Probeer dit gerus.