The Lovebirds (rolprent / Netflix)

The Lovebirds (rolprent / Netflix)

Hulle beweer mos humor is persoonlik. Wat vir jou snaaks is, sal nie eers my kleintoontjie kielie nie. Ek onthou nog die herrie wat losgebars het toe ek Vuil Wasgoed onvoorwaardelik aanbeveel het. Wel, THE LOVEBIRDS is omtrent so snaaks soos ‘n duisendpoot wat in jou ore kruip vir ‘n lepellê-sessie. Die pootjies kielie dalk aanvanklik, tot jy, arme sondaar, besef wat jou getref het. Dan kry jy die vergalste ding nie uit nie, en jy gril jou in ‘n ander bloedgroep in.

THE LOVEBIRDS het my letterlik ylings uit my TV-kamer laat vlug, smagtend na vars lug, want selfs die skoon lug buite was snaakser as die film. Sowat van ‘n geradbraakte deurmekaarspul het jy nie gesien sedert jy die kat per ongeluk vir drie dae in die slaapkamer toegesluit het nie. Dit gaan oor ‘n onpaar paar, wat aanhoudend kwetter en baklei, tot ‘n  misdadiger hulle probeer kaap. Wat hierna  gebeur, is omtrent so snaaks soos ‘n niersteen.

Dis ‘n slapstick-gegil en gekerm en gefopdos en gerond-kerjakker wat jou naar kan maak. Al lyk die plakkaat nie aanloklik nie, en moenie deur die lokprent mislei word nie, mag THE LOVEBIRDS jou ‘n grendelgreep laat verkies bo ‘n inperking voor die TV met dít as jou enigste geselskap. Vermy THE LOVEBIRDS ten alle koste.