The Night Agent (Reeks / Netflix)

The Night Agent (Reeks / Netflix)

As jy gedink het James Bond ken sy storie, het jy nog nie vir Peter Sutherland ontmoet nie. Dié gedugte jong held, wat lyk of hy nog ‘n finale jaar kriminologiestudent is, beantwoord noodoproepe in die Withuis. Nadat ‘n bom ontplof, besef die buksie dat die skuldiges se tentakels tot in die Withuis strek en dat die president se lewe bedreig word. Dan ontmoet hy ‘n slim meisie wie se lewe in gevaar is…

Die storie is ‘n slim variasie op die gewone spioenasieriller. Dit bokspring van ware Jakob na staatspresident, en gooi meer draaie as ‘n taxi op ‘n geel streep. Die aksie is voortvarend, dog gemotiveerd. Geen episode is vermoeiend nie, en die kyker sal die adrenalien deur hulle are voel bruis. Onthou: jy kan niemand werklik vertrou nie. Kyk deur die oëverblindery. ‘n Skitterende storie, geloofwaardige karakters en ‘n pakkende styl, maak van THE NIGHT AGENT vandeesmaand se beste stromingsreeks. Hier beweeg jy stroomop!