The Night Of (Reeks / Showmax)
The Night Of

The Night Of (Reeks / Showmax)

Staal jou vir THE NIGHT OF, ‘n hardebaard-gruwelreeks met waarskuwings oor geweld, taalgebruik en brutaliteit. Dis stoppelbaard-vermaak. Maar, boeta, plaas dit jou brein in ‘n tuimeldroëer! Jy sal nie jou dag van jou nag en jou skemer van jou sonop kan onderskei nie. Dit gaan oor ‘n doodgewone outjie wat lekker woes en vrygewig kan paartie. Na een van sy berugte partytjies waar hy lekker diep dwarsdeur die bottel gekyk het, neem hy ‘n aanvallige dolla huis toe. Hulle liefde lê later onder in sy whiskeyglas.

Maar, o ja, jy het reg geraai: sy word vermoor. Hoe dan ook nou anders in so ‘n reeks? Die knoop in die serp is dat hy die oggend wakker word langs haar lyk. Het hy haar vermoor sonder om dit te besef? Is hy ‘n skisofreen wat nie weet wat hy doen nie, of dalk is hy moordstories se gunsteling-anti-held – ‘n psigopaat?

THE NIGHT OF met die uitstekende Riz Ahmed, sal jou tot by die laaste toneel laat raai-raai-riepa. Hierdie reeks is vol dinge wat in die leivoor dryf, vals leidrade en asem-intrek-oomblikke. Ek kan dit met ‘n geruste hart aanbeveel as ‘n vraatkykreeks wat jou logika stewig sal toets, en vla oor jou breinselle sal gooi.