The Old Guard (Rolprent / Netflix)
the old guard 1

The Old Guard (Rolprent / Netflix)

Die menings oor Charlize Theron se jongste afslag-rolprent is so wyd soos die pad na die MoordenaarsKaroo. Dit moes na viermuur-teaters gegaan het, maar as gevolg van die Corona-pandemie kan dit nou gestroom word. Dit heet THE OLD GUARD. Feit is: Charlize kan opdragte oor sanitasie agterstevoor lees, en jy sal oopmond kyk. Daarom behoort veral die manne kiertsregop te sit oor THE OLD GUARD. Maggies, maar die meisie is sexy, en sy kan ‘n barshou in kuns omskep. En daai kuifie gee ‘n nuwe betekenis aan opwip-haarjel.

Dit gaan oor wesens wat al baie pandemies oorleef het en in ‘n lokval gelei word deur ‘n miljardêr, wat hulle DNS wil misbruik. Die man se uitpeuloë laat ‘n padda na sy manel soek. Charlize sê: hokaai uilskuiken. Al sê watter resensent wat, THE OLD GUARD is so lekker soos om katjiebotter uit ‘n fles te lek vol wonderskone mense met gesigte wat Michelangelo na ‘n beitel sal laat gryp. Dis vol onwaarskynlike veldslae, onsterflike legendes en brutale martelings waar nie eers ‘n vals wenkbrou van Charlize knak nie.

Vir my was dit onewe, soms langdradig, die storie is lappieskombers-ingewikkeld en die tema is al so dikwels vertel, jy kan sy baard met ‘n stomp skêr knip, want ‘n vervolg is op pad. THE OLD GUARD is soos groen koeldrank – lekker om na te kyk, maar met ‘n sooibrand-nasmaak.