THE QUEEN’S GAMBIT (REEKS / NETFLIX)

THE QUEEN’S GAMBIT (REEKS / NETFLIX)

Moenie bekommerd wees nie. THE QUEEN’S GAMBIT het niks met koningin Victoria of Elizabeth te doen nie. Dis ‘n skaakterm. Maar kan ‘n TV-reeks oor skaak boei?

THE QUEEN’S GAMBIT is een van die beste en mees verbluffende TV-reekse van die jaar. Al kan jy nie jou skaak van jou Monopoly onderskei nie, sal jy steeds vasgenael kyk hoe ‘n geniale weeskind, pragtig gespeel deur Anya Taylor-Joy, Amerika se kampioenskaakspeler word. Dit gaan ook oor hoe ‘n skaakbrein werk, hoe verbluffend vermaaklik die spel kan wees, en die verraderlike skaakskuiwe wat mense met mekaar maak.

THE QUEEN’S GAMBIT is seker die mees intelligente TV-reeks van die jaar, maar moenie dink dit sal jou baasraak nie. Dis opsienbarend boeiend, dit sal jou betower van begin tot einde en die grys breinselle oortyd laat werk, maar van skone lekkerkry. En moenie net ‘n vervelige geskuif van skaakstukke verwag nie. THE QUEEN’S GAMBIT maak skaak die koelste spel én reeks van die jaar. Dit is top vermaak.