THE RING 2

THE RING 2 het my omtrent so banggemaak soos ‘n marmotjie wat op ‘n wiel hardloop. Dis ‘n vervolg op THE RING en verduidelik hoe die video gemaak is wat tot so baie sterftes aanleiding gegee het. Maar dis ‘n gogga-maak-vir-baba-bang-fliek, vol vals skokoomblikke, katte wat uit kaste spring, bang oë wat versigtig in die donker rondsoek en simbaalslae as die regisseur wil hê jy moet skrik. Grillerflieks het nêrens meer om heen te gaan nie, behalwe as jy na SAW gaan kyk wat mens regtig die skrik op die lyf gejaag het. Alles is pikdonker, en mens wonder hoekom niemand ‘n lig aanskakel as hulle in ‘n kamer instap nie en hulle WEET daar wag ‘n monster. Die grieselrigste oomblik is ‘n herhaling van die oorspronklike wanneer ‘n dooie dogtertjie deur ‘n televisiestel peul en die persoon wat kyk verwurg. Maar verder is dit ‘n afgewaterde nabootsing van die oorspronklike. As jy selde na rillers gaan kyk en jy ken nie skoktegnieke nie, mag jy hier en daar jou asem intrek en selfs ‘n gefolterde kreet uiter. Maar wat die res betref is dit maar dieselfde ou storie op dieselfde donker manier vertel. THE RING 2 is nie NAASTENBY so skrikwekkend soos sy voorganger nie.