Aidan Turner, wat jy dalk van Peter Jackson se die Hobbit-reek flieks sal onthou, maak deesdae ‘n gewoonte daarvan om karakters met ‘n krakie in te speel. Soos die titel THE SUSPECT aandui, gaan dit oor: Is dokter Joe O’Loughlin skuldig aan moord of nie?
Die lyk van ‘n vrou word ontdek met 21 messteke. Die geheim lê in hierdie getal opgesluit. En mens wonder: hoekom juis 21? Dan begin die bewyse teen die dokter opstapel. Maar dis Aidan Turner! Hy kan tog nie skuldig wees nie? Of is hy?
Die reeks gooi gereeld dobbelsteentjies na die kyker toe. As dit twee sesse is, dink jy jy het die geheim opgelos. Maar wanneer dit op twee eene val, wonder jy of jy deur die vals leidrade mislei is.
Dis spannend soos in ‘n roman wat jy op ‘n lughawe koop om die tyd te verwyl wanneer die vlug vertraag is. Lekker snelbewegend, maar niks buitengewoon nie.