The White Lotus (Reeks)

The White Lotus (Reeks)

THE WHITE LOTUS lyk op die oog af na net nóg ‘n verspotte Amerikaanse TV-komedie. Maar dit gaan eintlik oor hoe die Amerikaners die Hawaiise kultuur onderskat en minag, en selfs bespot. En hoe die twee volke op komiese, maar ook skokkende maniere, bots.

‘n Groep nare karakters, almal Amerikaners, kom by ‘n vakansieoord in Hawaii bymekaar. Elkeen het sy eie duiwels wat hulle beveg, maar hulle wil eintlik net vakansie hou. In Hawaii en sy tradisies stel hulle min belang. Maar dan peul elkeen se monsters uit die kas – van ‘n selfsugtige wittebroodjiespaartjie tot ‘n korporatiewe gesin. En tussenin misbruik die Amerikaners die Hawaiiërs gruwelik.

Dis ook ‘n swart/melancholiese komedie waarin al die vuil Amerikaanse wasgoed gewas word. Die skrywer is meedoënloos, maar baie snaaks en het diep insig in albei kulture. THE WHITE LOTUS is enig in sy soort, en ek verwag dit gaan met ‘n hele boel pryse wegstap. Dit is onmisbaar.