Thor: Love and Thunder

Thor: Love and Thunder

Ek het in g’n maande so ‘n uitbundige, lawwe, verfrissende deurmekaarspul gesien wat uiteindelik sin maak nie. Thor wil deesdae ‘n mens wees, nie meer ‘n god nie. Sonder sy hamer en met net ‘n byl is hy ook nie dieselfde nie. Die regisseur, Taika Waititi, se humorsin sal jou katswink slaan. Die regisseur van JOJO RABBIT werp jou in elke toneel in ‘n ander wêreld. Dán ‘n paradyslike planeet wat hulde bring aan Thor, dán in ‘n arena waar ‘n potsierlike Zeus die septer swaai, dan ‘n doodsplaneet waar die gruwelskurk Gorr heers, en dán ‘n ruimtereis wat jou bedwelm.

Alles klink dalk of dit slegs vir kinders en strokiesverslaafdes is. Dis nie waar nie. As ‘n fliek sulke aweregse humor bevat, soveel groter-as-die-lewe-karakters bevat en Thor met homself en sy magtige arms laat spot, verdien dit om gesien te word. Dit akkommodeer veral volwassenes, maar móét op ‘n groot doek of IMAX  ervaar word. Hierdie bul wat homself so opstuur en sulke heerlike dialoog het met ‘n reënboog vermaaklike tonele, is die beste medisyne teen bedruktheid.