Those who wish me dead

Those who wish me dead

THOSE WHO WISH ME DEAD is een van daardie skiet-skop-en-doodbloei-rolprente met gate in die storie dieper as die slaggate op ‘n plattelandse pad. Maar omdat die onwaarskynlike storie soos water oor spoelklippies vloei, en Angelina Jolie so beeldskoon is, vergewe ‘n mens die film baie foute. Die storie is net te verwikkeld, maar kortliks gaan dit oor ‘n seuntjie en sy pa wat vir hulle lewe vlug. Hoekom die pa vlug is nie juis duidelik nie. ‘n Groep brandweermanne probeer ‘n bosbrand blus en wil die kind red, en Angelina is die vrou in die middel.

Die reuse brande en Jolie en die kind se vlugtog deur ‘n afgebrande niemandsland met mooi mense wat gruweldade pleeg, maak THOSE WHO WISH ME DEAD ‘n aksie-allegaartjie wat so volgeprop is, jy hou skaars by. Dit voldoen aan sy vereistes om jou vir 110 minute te laat vergeet van die chaos waarin ons leef.

Jolie oorheers natuurlik die film… mens kan nie wegkyk as daai groot kykers eers in jou rigting draai nie. Sy is die onwaarskynlike heldin in ‘n onwaarskynlike storie.  Taylor Sheridan, die regisseur, verlei jou vinnig, tot jy aan die goeie ouens se kant is.