Time Is Up

Time Is Up

Baie mense hou van romantiese melodramas. Nie romantiese komedies waar jy lag terwyl jy huil nie, maar flieks so sentimenteel met vanieljetrane dat jy later skuurpapier in plaas van sneesdoekies wil gebruik. TIME IS UP is een van daardie treurmares. Dit is redelik pynlik en gaan slegs oor mooi, volmaakte mense wat in benarde situasies beland, maar nie ‘n haartjie, ‘n lipstiffie, ‘n Speedo, ‘n borshaar of ‘n kuif val uit posisie uit nie. Mense in romantiese melodramas is altyd voorbladmooi-beeldskoon. So mooi dat jy onmiddellik vir botox wil aanmeld om jouself te verbeter.

In TIME IS UP beland ‘n pragtige meisie met grimering dikker as versiersuiker op ‘n troukoek, in ‘n ongeluk. In haar lewe is twee manne, die een mooier en meer gespierd as die ander. Die kamera sorg ook dat jy bewus is daarvan. Dan beland die dame in ‘n baie onoortuigende en onwaarskynlike motorongeluk, spesiaal geskep om die storie verder te voer. Natuurlik verloor sy gerieflikheidshalwe haar geheue en beland in ‘n sagte hospitaalbed, nog mooier as toe sy daar ingedra is. Nie ‘n haartjie uit plek nie met skaars plek vir die suurstofmasker met al die dik grimering. Nou moet sy kies tussen die Speedo en die tatoeëermerke, en die kuif en are op die arms. Wie sal sy kies?

Julle ken die resep. Hoe groter die rebel, hoe duideliker sy tatoes en koeler sy houding, hoe groter die kans dat sy verkeerd gaan kies. TIME IS UP is vir oogrollende tieners wat woorde soos “oh, wuhl” en “awesome” aanhoudend gebruik. Dis ook wat hulle in TIME IS UP sal doen, wat vir volwassenes redelik moeilik is om deur te worstel. O, die hel van jonk en mooi wees!