TINY PRETTY THINGS (Reeks)

TINY PRETTY THINGS (Reeks)

TINY PRETTY THINGS op Netflix se titel is eintlik niksseggend, en tensy jy nie na die plakkaat kyk nie, sal jy nie sommer vermoed dat dit oor ballet gaan nie. Jy gaan hierin egter min insig oor die kuns van ballet kry. Dit word hoofsaaklik gebruik as die agtergrond waarteen katgevegte tussen danseresse en minnaars, of mededinging oor rolle uitbreek –  waar al die manne spog met hulle maande-lange werk in die gimnasium met elke tweede toneel, mense mooier as die engeltjies op koekblikke met hulle volmaakte liggame spog, en danstonele jou mag betower.

‘n Asemrowende ballerina stort oor ‘n dak. Het iemand probeer om haar te vermoor? Dan neem iemand anders haar plek in (die treffende Kylie Jefferson) en die binnegevegte neem dramatiese afmetings aan. Moenie dat die ballettema jou afsit as jy dalk nie jou pas de deux van jou jeté kan onderskei nie. Jy mag jou vergaap aan die fraai mense wat nie aarsel om te wys hoe mooi hulle is nie, en die kort ballettonele is dikwels asemrowend. Maar waar die reeks afskop as: “wie het die amper-moord gepleeg?” (die slagoffer oorleef terloops), verander dit later in liefdesgevegte, kwaai choreograwe wat ‘n opstand trotseer oor ‘n ballet oor Jack the Ripper en wie by wie slaap en wie mekaar in die rug steek.

TINY PRETTY THINGS is soos om sjokolade oor roomys te smelt, en stukkie vir stukkie van ‘n teelepel af te lek, maar as jy insae in die balletwêreld verwag, kyk liewer na die film, The Black Swan.