TOORBOS

TOORBOS

TOORBOS is gegrond op die klassieke roman deur Daleen Matthee. Dit gaan oor ‘n eenvoudige bosmeisie, Karoliena (pragtig gespeel deur Elani Dekker) wat saam met haar stoere ma uit die diep bos naby Knysna moet padgee. Die regering wil die mense hervestig en dele van die bos afkap vir sogenaamde vooruitgang. Maar as die bos eenmaal in jou bloed is, is hy deel van jou DNS, ‘n element wat die regisseur René van Rooyen intelligent in haar regie vasvang, veral in Karoliena se liefde vir die magtige kalanderboom.

Karoliena ontmoet ‘n jong man wat verskeur is tussen die bos en die sogenaamde beskawing in die dorp, en sy moet kies tussen haar liefde vir die bos en vir ‘n verskeurde man wat nóg bosmens, nóg dorpenaar is, en nou ‘n baster-Engelse gentleman is. Wie sal sy kies?

TOORBOS is ‘n magiese film waarin René van Rooyen daarin slaag om die heilige atmosfeer van die bos raak vas te vang, maar ook die siel van die ontwortelde bosmense. Hierdie tragiese aspek vorm die hart van ‘n meevoerende rolprent. TOORBOS is Afrikaanse rolprent op sy beste.