Triptych (Reeks / Netflix)

Triptych (Reeks / Netflix)

TRIPTYCH (Oorspronlike titel: TRIADA) is ‘n Meksikaanse TV-reeks met ‘n skokkende afskopoomblik. ‘n Forensiese ondersoekbeampte ontdek ‘n lyk wat sy moet ondersoek, en besef tot haar skok dat die dooie vrou presies nes sy lyk. Maar daar wag nog erger onthullings.

Die oomblik wat ‘n mens sien “gebaseer op ware gebeure” sluk jy swaar aan sekere tonele. Want wat is televisie se wagwoord dikwels? – Ons lieg die waarheid. Dit beteken die hoofgebeure is waar, maar daar is baie wol tussenin om dit meer gewig te gee. Die een skokgebeurtenis volg die ander op, wanneer Becca, die forensiese beampte, besef dat haar ma al die jare vir haar gejok het, en dat daar nog vele ander geslote geheime is wat vir ‘n blikoopsnyer wag.

Jy moet hier nogal konsentreer, want die storie is verwikkeld en jou brein moet in topversnelling wees om by te hou. Die styl is ook baie dramaties en ernstig. Maar uiteindelik sal TRIPTYCH tog jou moeite loon, want veral die Mexikaanse kultuur word geslaagd ontgin.