Trompoppie (Reeks)

Trompoppie (Reeks)

TROMPOPPIE op Showmax sal ‘n paar geplukte wenkbroue laat lig, gespuite lippies laat tuit, en gebotoxde wange laat insuig. Soos met sy rolprent, Stiekyt, steek Etienne Fourie weer die Rubicon oor sonder krukke. Hy draai whodunit-skoolstories op hulle kop, piets hulle met tromstokkies, en laat sommer ‘n paar moorde in die proses pleeg. Melissa Myburgh blink uit as die onskuldige meisie wat in die gemors beland.

TROMPOPPIE is nie jou tradisionele Saartjie- of Trompie-reeks nie. Dis woes, gooi lekker woorde soos konfetti rond, wat dikwels nét uit vier letters bestaan, is bitsig, katterig en venynig, maar vermaaklik. Let net daarop dat dit op ‘n uitgesoekte smaak gerig is, en dat die reeks wielie-walie tussen skokke, moorde, katterigheid, verwaande tewerasies, en geskokte skoolmeisies. Jy het nog nooit so iets in Afrikaans gesien nie. Hou maar die vlugsout byderhand.