TWIN SISTERS

Toe Ster-Kinekor my nooi om na TWIN SISTERS te gaan kyk, het ek langtand in my motor geklim. Dit klink toe vir my na ‘n sentimentele gesanik en ek was GLAD nie lus nie. Ek was verkeerd. TWIN SISTERS het my só geraak… ek kon eers opstaan nadat die ligte aangegaan het, toe maak ek of my kontaklense my oë so laat traan.

Dis gegrond op die ware verhaal van ‘n tweelingdogters wat in die 1920’s geskei word. Die een word deur ‘n wrede Duitse familie aangeneem wat haar mishandel en misbruik, die ander deur ‘n skatryk Hollandse familie. Die Duitse meisie trou met ‘n Nazi en die Hollandse suster met ‘n Jood. Dit veroorsaak ‘n spanning wat bloedbande breek en die tweeling uitmekaardryf.

Jy hoor seker die woord Nazi en dink: het ons nie al genoeg tragedies oor die Tweede Wêreldoorlog gesien nie? Die antwoord is NEE. Elke keer kom rolprentmakers met vars ware verhale vorendag. TWIN SISTERS bekyk die oorlog uit ‘n ander oogpunt. Al is die fliek oor die 2 ure lank, is dit nie so geveinsd en polities korrek soos ander flieks wat hul karakters soms doodsmoor nie. TWIN SISTERS is menslik, waagmoedig, onberis-pelik geregisseer en onthutsend aan die einde. Dit wys net in kunsteaters en is in Hollands en Duits met byskrifte. Moenie dat die titel jou afsit nie. TWIN SISTERS moet deel uitmaak van jou flieklewe.