Uncharted

Uncharted

Een ding is nou maar wors. Mark Wahlberg het moeg geraak van toneelspel, en is verveeld, selfs iesegrimmig in UNCHARTERED. Seker omdat alles nie om hom draai nie. Dis ‘n melkbaard Indiana Jones waarin Tom Holland, ‘n dapper avonturier, en Wahlberg, die gesoute soeker, na ‘n 500-jaar-oue skat gaan soek. Maar natuurlik is daar skurke wat dieselfde klomp goud wil opspoor.

Holland oorheers die film, en was dit nie vir hom nie, het min mense seker gaan kyk want die storie is so vol clichés, jy kan dit agterstevoor opsê: Holland is “kid”, Wahlberg is wys en dapper en sê kort-kort: “You’ve gotta be kiddin’ me!” ensovoorts. Holland is aanvanklik onseker, maar kry later gesag. Hy doen ook meeste van sy waaghalstoertjies self. Dis sy humorsin en onskuld wat die rolprent laat woer-woer.

As jy net na aksie soek, is UNCHARTERED vir jou. As jy na iets nuuts soek, druk jy hier op die verkeerde nommer. Aksievol, veral die laaste 10 minute, maar die onpaar paar is onvanpas. Holland is die siel van die fliek, waarvan die aksie buite beheer raak. Net vir aksieslawe.