UNDER SUSPICION: UNCOVERING THE WESPHAEL CASE (Reeks)

UNDER SUSPICION: UNCOVERING THE WESPHAEL CASE (Reeks)

‘n Reeks wat jou laat regop sit, is UNDER SUSPICION: UNCOVERING THE WESPHAEL CASE. ‘n Belgiese politikus, Bernard Wesphael, word daarvan aangekla dat hy en sy vrou gewelddadig in ‘n hotelkamer in 2013 baklei het. Daar word beweer dat hy sy vrou, wat hy van ontrouheid verdink het, in die badkamer vermoor het, maar haar versmoring laat lyk het na selfdood. Het hy sy vrou in ‘n vlaag van woede vermoor en daarna probeer skoonmaak?

UNDER SUSPICION: UNCOVERING THE WESPHAEL CASE gaan soms te deeglik op die saak in. Met ander woorde dit raak vermoeiend, en ek wil my verstout om te sê dat net wetsgeleerdes die geweldige deeglike uitpluising boeiend sal vind. Hier is geen sensasie of sentiment of verfraaiing nie. En Wesphael se gesig sal jou vir altyd bybly. Daardie spanning en ondraaglike druk wat op hom geplaas is, sal jou teister.

Die uitslag van die hofsaak word in die laaste episode gegee, maar daar is een episode te veel. Dis moeilik om na te kyk, maar soms moet mens hard werk om by die waarheid uit te kom.