VIRGIN RIVER (Reeks)

VIRGIN RIVER (Reeks)

VIRGIN RIVER is ‘n interessante konsep. Dis beslis ‘n sepie, so half ‘n kruis tussen Grey’s Anatomy en Doc Martin. ‘n Verpleegster (‘n bedaarde Alexandra Breckenridge) daag in ‘n konserwatiewe dorpie op, maar die kwaai ou dokter wil niks van haar weet nie en sien haar as ‘n bedreiging. Sy hou natuurlik baie van die rowwe en aantreklike, robuuste eienaar van die kroeg/restaurant (Martin Henderson) natuurlik met ‘n stoppelbaard en bietjie grys langs die slape. Dié macho held help haar heel gemaklik om ingeburger te raak, maar aan die einde van episode 1 verander die verpleegster se hele lewe wanneer iemand ‘n baba op haar voorstoep laat. Waarheen nou? Wie sal vir hom sorg?

VIRGIN RIVER, wat op ‘n kol Netflix se gewildste reeks was, beweeg teen ‘n gemaklike huppel in sy stappie. Dis eintlik ‘n baster-sepie soos Northern Exposure, wat ons as Goeie Môre Alaska geken het. Kleindorpse kleinighede en politiek, beuselagtighede wat grotesk opgeblaas word, en twee mense wat verlief is op mekaar maar dit nie wil erken nie, staan voorop. En dan is die rivier beeldskoon met sy oewer vol klein klippies, en die karakters is sjarmant en mededeelsaam. Die perfekte agtergrond vir hulle. Glo my, jy sal dit vraatkyk.