VOYAGERS

VOYAGERS

Het jy The Lord of the Flies gelees? Wel, VOYAGERS is ‘n afgewaterde melkbaard weergawe daarvan. ‘n Klomp wellustige jonges word op ‘n ruimteskip geplaas wat vir 85 jaar lank na die enigste ander planeet in die heelal reis om dit te ondersoek. Ook om dit leefbaar vir hulle volgelinge te maak. Natuurlik sal die jonges se kleinkinders die enigstes wees om die planeet te sien.

Maar daar is altyd ‘n skurk op die ruimteskip wat dit van sy wentelbaan wil afgooi. Dit kruis Alien met The Lord of the Flies, en goed soos wat Tye Sheridan is, pas hy nie in die rol van die leier nie. Nog minder die smalende Fionn Whitehead as die skurk met die gemene plooie. Omdat mens so vroeg deur die storie sien, raak jy tam. Mooi mense, baie hemde wat waai, vele gimspiere, maar sonder veel van ‘n IK of sin vir verantwoordelikheid, kry die fliek 4 uit 10. Dis jou keuse of jy saam met die reisigers na ‘n ander planeet wil ontsnap.