WHO KILLED SARA? (Reeks)

WHO KILLED SARA? (Reeks)

WHO KILLED SARA? is soos om murg uit ‘n skaapbeentjie te suig – kortstondig lekker. Dan sit jy met ‘n leeggesuigde beentjie en wat nou? Is daar dalk ’n brakkie vir wie jy die been kan gee? En mense, word die storie uitgerek. As jy dus na mooi lywe en sespakke soek, en jonges wat partytjies geniet en al gillende ronddans – hier is jou gemaksonereeks vol soetpatats en gebakte aartappels. Dis ‘n Meksikaanse reeks (¿Quién Mató a Sara?) met byskrifte.

‘n Klomp jeukerige jonges met minder klere as verstand, seil op ‘n boot uit vol drank, testosteroon en spaghetti-bikini-bandjies. Dan sterf die waaghalsige Sara. Wie het haar voor ons oë vermoor? Die verkeerde man gaan 18 jaar lank tronk toe vir haar moord. Maar wie is die werklike wreedaard? Dit neem omtrent 8 episodes om uit te vind, alhoewel slim whodunit-kykers reeds vroeg sal raai.

Dis leeg, vol glans en die alkohollimiet sal jou agter tralies laat beland. Lekker om na te kyk, maar so leeg soos ‘n poedingbak na ‘n kinderpaartie, en oppervlakkig vermaaklik. Die 6 uit 10 punt is bloot omdat mense lekker gaan kyk en raai-raai-riepa speel. Dit weerspieël nie die gehalte nie.