WONDER WOMAN 1984

WONDER WOMAN 1984

Wonder Woman het nuwe blits onder haar voete en goue vlamme in haar sweep, wat sy soos ‘n speelding gebruik. ‘n Antieke voorwerp wat wense bewaarheid raak weg, en Diana Prince moet dit vind. Soos ons haar ken, sal sy die voorwerp tjop-tjop kry, maar sy misgis haar met verraderlike vroue wat hulle as vriendinne voordoen. Terwyl WONDER WOMAN 1984 vinniger as klank beweeg, voel mens meer toegeneë tot die muiserige Barbara Minerva, pragtig gespeel deur die muisvaal Kristin Wiig. Sy kan aanvanklik nie haar eie kragte glo nie, tot sy die goue sweep tussen haar vingers voel en magsbelus raak.

WONDER WOMAN 1984 is soos om in jou oom se bakkie op die plaas te klim en presies te weet hoe om die stram outydse ratte te beheer – jy ken dit so goed. Chris Pine wat uit die dood opstaan, vurige vlambeneukte vroue wat die wêreld in vuur laat uitbars, swepe wat Indiana Jones se hoed sal afklits, en blitssnelle atletiese toertjies wat jou kuitspiere laat pyn, is aan die orde van die dag. Dit is presies wat jy verwag dit gaan wees, veral in IMAX en SCENE EXTREME-teaters. Gaan kyk daarna op die silwerdoek waarvoor dit bedoel is. Hoe vergesog en voorspelbaar ookal, WONDER WOMAN 1984 is die soort pretfliek wat jy met vrolike fliekgangers moet deel, al jubel hulle twee stoele ver van jou af met springmielies, wat uit hul gesaniteerde pakkies stort.