You (Reeks)

You (Reeks)

YOU is ‘n unieke reeks waarna ek al sedert sy eerste episode kyk. Dit gaan oor ‘n bleeksiel (‘n uitstekende onderspeelde Penn Badgley) wat ‘n boekwinkel het en boeke restoureer. Hy is ook ‘n moordenaar. Vreemd genoeg is ons aan sy kant, omdat hy ons in sy vertroue neem, skynbaar ‘n sagte persoonlikheid het en in vertellings verduidelik wat in sy kop aangaan.

In die derde reeks het hy en sy vrou ‘n baba. Die probleem is Joe, die held, hou nie van die baba nie en sy vrou is eintlik gevaarliker as hy. Hulle open ‘n bakkery. Maar onder in die kelder is ‘n glaskas waarin hulle hulle slagoffers aanhou en regsien. Klink dalk nie na jou soort reeks nie, maar in die toeganklike manier waarop die skrywer en regisseur dit aanbied, raak dit vermaaklik op ‘n vreemde, boeiende manier, en het mens selfs simpatie vir die wrede Joe. Jy mag dalk net verslaaf raak aan YOU op Netflix.