Young Wallander (Reeks)

Young Wallander (Reeks)

Ek dink elke kyker het sy of haar eie gunsteling Wallander-reeks. Van die heel oorspronklike Sweedse reeks in 2005 met Krister Henrikson, tot Kenneth Branagh se Britse WALLANDER tussen 2008 en 2016, tot met die jongste YOUNG WALLANDER waarin die knap Adam Pålsson die speurder in ‘n tweede reeks speel. Hy is ‘n tawwe laaitie wat nie bang is om na die agterstrate te gaan en hardebaard skurke uit te ken nie. In weerwil van sy jeugdige voorkoms vrees hy niemand nie, en gewoonlik kry hy sy booswig – doodkalm, met ystervuiste wat Staal Burger sou uitslaan, en ‘n koel persoonlikheid wat skurke laat smelt.

YOUNG WALLANDER op Netflix is ‘n yskoue reeks. Jy bibber sommer as jy daarna kyk, want mens sien nooit die son nie. Obskure karakters skuil in die skaduwees terwyl Kurt Wallander sy base se opdragte ignoreer en weet in watter gate om in te kruip.

In die tweede reeks word iemand in ‘n tref-en-trap-ongeluk gedood. Die man het ondergrondse kontakte gehad. En wát van die meisie saam met hom, wat die aanval oorleef het? YOUNG WALLDER  word aanbeveel as jy van intelligente, dramatiese speurverhale met ‘n hipnotiserende, charismatiese atmosfeer hou.